Sport

PRG O/15 Tennisspan wen Silwer medaljes in Pretoria

PRG O/15 Tennisspan wen Silwer medaljes in Pretoria

Agter van links na regs: Jacobus Swanepoel (Afrigter), Heinrich Terblance, Joshua Swanepoel, Jacques Mieny, Ingo Reuter, Luc Brewis, Luca Link en Daniel Beukes

Gedurend die afgelope lang naweek het die O/15- tennisspan van Paul Roos aan die O/15 Nasionale Tennistoernooi in Pretoria deelgeneem. Die toernooi is vanjaar deur HS Waterkloof aangebied en is by onder andere Waterkloof, Affies, St.Mary’s (DSG) en Pretoria Boys High gespeel.

Die Paul Roosers het hulself uitstekend van hul taak gekwyt en die silwer medalje gewen onder die 10 genooide skole wat deelgeneem het. In die finaal het die PRG-span ongelukkig teen ‘n baie sterk span van die gasheerskool, Waterkloof, vasgeval.

Die Paul Roosspan is verteenwoordig deur: Joshua Swanepoel, Jacques Mieny, Ingo Reuter, Daniel Beukes, Luca Link, Heinrich Terblanche en Luc Brewis.

Die 10 skole is opgedeel in twee groepe en ‘n rondomtalietoernooi het tussen die skole in elke groep plaasgevind. Aan die einde van hierdie fase het die twee groepe oorkruis teen mekaar gespeel ten einde die 2 beste skole te bepaal.

Die PRG-span is saam met die 1ste gekeurde, Waterkloof ingedeel. Gedurende die rondomtaliefase het die Paul Roos manne teen Waterkloof verloor maar verder al hul wedstryde gewen en sodoende tweede in hul groep geëindig. In die oorkruis semi-finaal het Paul Roos met ongelooflike veggees en durf vir Grey College, wat eerste in hul groep was, met 5 – 4 gewen. Hierdie semi-finaal was uiters spannend en die oorwinning was eers moontlik nadat die PRG-manne die finale dubbelwedstryd met 8 – 4 gewen het. Waterkloof het vir Affies met 5 – 0 in hul semi-finaal gewen.

Paul Roos het in die finaal dus weer teen Waterkloof te staan gekom. Die PRG manne was ongelukkig nie opgewasse teen die aanslag van die gasheerskool nie en het moedig baklei, maar ongelukkig met 1 – 5 verloor. Die span het ongelooflike ervaring opgedoen, wat waardevol vir hul ontwikkeling en vir die toekoms sal wees.

Die uitslae van die Paul Roos span is as volg:

PRG wen St. Benedicts: 9 – 0 (72 potte – 15 potte)
PRG wen Menlopark: 9 – 0 (72 potte – 24 potte)
PRG verloor teen Waterkloof: 0 – 9 (25 potte – 72 potte)
PRG wen Selborne College: 6 – 3 ( 57 potte – 33 potte)
PRG wen Affies: 5 – 4 (Semi-finaal)
PRG verloor teen Waterkloof: 1 – 5 ( Finaal)

Die finale stand van sake na die toernooi is as volg:

1. Waterkloof
2. Paul Roos Gimnasium
3. Grey
4. Affies
5. Diamantveld HS
6. Pretoria Boys High
7. Selborne College
8. Menlopark
9. St.Benedicts
10. Nelspruit

Baie geluk aan hierdie Paul Roos spelers wat die skool met trots verteenwoordig het.